Join Now

# Latest News

Submit News

07 May 2012 at 20:16 - Posted by Anonymous

Man in hospitaal na aanval met piksteel


335

Inbrekers het 'n man Maandag ernstig met 'n piksteel aangerand.

NELSPRUIT - ‘n Man moes vir skedelbreuk behandel word nadat hy Maandagnag ernstig met ’n piksteel deur inbrekers aangerand is.

Die Clark-egpaar was by hulle huis in die Uitkyk-omgewing toe hulle deur vyf verdagtes oorval is. Dit blyk dat die aanvallers ‘n veiligheidshek met die piksteel oopgebreek en die voordeur oopgeskop het. Clark het gaan ondersoek instel. Die mans het hom oorrompel en na buite gesleep waar hulle hom met dié stuk gereedskap oor die kop geslaan het.

Twee van die verdagtes is daarna terug na die huis waar hulle Clark se vrou met ‘n vuurwapen gedreig het. Die wapen se loop is in haar mond ingeforseer waarna een vir haar geskree het: "I will kill you bitch!" Drie van die mans was gewapen. Die bende het die huis sistematies deursoek en ‘n platskerm-televisie sowel as ‘n aktetas waarin Clark kontant van sy besigheid toegesluit het gebuit.

Terwyl die verdagtes die huis deursoek het, het me. Clark haarself in ‘n badkamer gaan toesluit en die sekerheidsmaatskappy se paniekknoppie gedruk. Sy het gehoor hoe skote buite gevuur word en het op daardie stadium die ergste verwag.

Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het dadelik voertuie na die toneel ontplooi met die polisie se honde-eenheid kort op hulle hakke. Met hul aankoms het hulle Clark met ‘n diep kopwond buite gevind. Die verdagtes het toe reeds te voet  met hul buit gevlig.

Hi-Tech se reaksielede het ‘n ambulans ontbied en Clark is na Rob Ferreira Hospitaal vervoer waar hy  met ernstige harsingskudding en skeudelbreuk opgeneem is.

"Dit was nou vir ‘n geruime tyd stil in die omgewing, maar hierdie groepering kan dinge weer moeilik maak vir almal," het mnr. Nico Grobler, bestuurder by Hi-Tech gewaarsku.

"Ons wil  vra dat alle inwoners van die Highlands-omgewing bedag sal wees en enige verdagtes op hulle plase of kleinhoewes aanmeld. Maak ook seker wie in die omliggende kamponge bly en verwyder alle ongewenste elemente."

 
comments powered by Disqus