Join Now

# Latest News

Submit News

23 July 2012 at 11:07 - Posted by GeraldY

Pa vermoor op sy dogter se tiende verjaardag


472

PORT ELIZABETH. – Kort nadat hy vleis vir sy dogter se vleisbraaipartytjie op haar tiende verjaardag gaan koop het, is ’n pa van Gelvandale by sy huis met ’n mes doodgesteek.

Colin Smith het Vrydagmiddag pas tuisgekom toe hy vermoedelik op ’n inbreker afgekom het.

“Colin het twee huise van hier af gaan hulp soek en op die mense se stoep inmekaar gesak. Ek kon dit nie glo toe ek dit hoor nie,” het sy suster Melanie Smith gister vertel.

’n Familielid, wat nie genoem wou word nie, het Vrydagmiddag by die huis aangekom en ’n geskree agter die huis gehoor. Hy het gesien hoe ’n onbekende man weghardloop en hoe Colin na hulp gaan soek.

Colin het omstreeks 15:00 van die werk af by die huis gekom. Daarna is hy weer uit om inkopies vir sy dogter, ook Melanie, se verjaardagpartytjie te gaan doen. Met sy terugkoms het hy glo ’n inbreker in sy huis betrap. Hy en die man het begin baklei en in die struweling na die agterplaas beweeg. Daar het die inbreker ’n mes uitgehaal, die oorledene in die bors gesteek en weggehardloop. Colin het na hulp gaan soek.

Volgens sy vrou, Connie, wat nog by die werk was ten tye van die voorval, is daar twee selfone en juweliersware uit die huis weg.

“Dié is gewoonlik so ’n stil buurt. Hier is nou en dan inbrake, maar verder niks soos wat hier gebeur het nie,” het Lydia Smith, Colin se ma, gesê. Sy het met ’n foto van hom by haar gesit en in trane uitgebars toe sy weer daarna kyk.

Na bewering het die inbreker sy selfoon tydens die bakleiery verloor en kon uitgeken word danksy ’n foto van homself wat daarop gevind is. Die polisie het bevestig dat ’n man Saterdag in hegtenis geneem is en binnekort in die Port Elizabeth-landdroshof sal verskyn.

Die familie sal vandag bymekaar kom om begrafnisreëlings te tref.

- Die Burger

comments powered by Disqus