Join Now

# Latest News

Submit News

19 November 2012 at 10:11 - Posted by Anonymous

Pa voor seuntjie geskiet - SANEWS


464

Botha en sy dogter Tanya (22).

Vyf jaar gelede is sy vrou voor hom en sy dogter so erg aangeval dat sy kort daarna dood is. 

Eergister is Jacques Botha (51) voor sy nuwe vrou en driejarige seuntjie koelbloedig op ’n hoewe in Elandsdrift, Muldersdrift, deur ’n rowerbende vermoor. 

Sy vrou, Anél (45), en Neo moes toekyk hoe hy doodgeskiet word. 

Dit was die tweede bloedige aanval in twee dae op dieselfde hoewe.

Botha se dogter uit sy vorige huwelik, Tanya (22), het gister vertel hoe haar ma in 2007 tydens ’n huisroof in Moreletapark, Pretoria, voor haar en haar pa vermoor is.

“Ek en my broer (Reinhardt, 18) sukkel nog om tot verhaal te kom oor wat Saterdag gebeur het,” het ­Tanya gister gesê. 

In die destydse aanval het ses mans in Maart 2007 by die Bothas se woning in Pretoria ingebreek en hom, sy destydse vrou, Tinkie (44), Tanya en haar kêrel en ’n vriend met messe en bakstene aangeval. 

Tanya se ma is later in die Pretoria-Oos hospitaal weens bloedverlies oorlede. 

Anél Botha het gister vertel hoe sy eergister net ná 20:00 met Neo by die huisie wat hulle op die hoewe huur, ingestap en iets agter haar gehoor het.

Sy het omgekyk en gesien hoe ten minste “drie groot mans” Botha in die voorportaal oorrompel en ses skote op hom skiet. Botha is drie keer getref – in die bors, sy en nier. 

Sy het met hul seuntjie in ’n kamer probeer wegkruip, waar die rowers haar met ’n “groot mes” vasgekeer en vir haar skootrekenaar en selfoon gevra.

“Ek het gedink hulle gaan ons ook doodmaak,” het Anél gesê. 

“My man was intussen besig om op die vloer te lê en sterf, maar hulle het duidelik geen gewetens of respek gehad nie.”

Ná die rowers hulself uit die voete gemaak het, het Anél vergeefs by die hoewe se opsigter om hulp probeer aanklop.

Mike Walden (63), ’n buurman op die hoewe, het haar te hulp gesnel en Botha op ’n bloederige duvet na sy motor gesleep.

Walden het toe met Botha na die Life Fourways-hospitaal gejaag. Walden se meisie, Tanya Allendale (45) ’n verpleegster by die Olivedale-kliniek, het Botha op die agterste sitplek probeer help, maar Botha is onderweg na die hospitaal dood. 

David Carter (25), wat saam met sy ma, Dawn (54), in ’n ander huis op die hoewe woon, het gister vertel hoe vier mans ook Vrydagaand sy kamerdeur afgeskop en hom met pistole geslaan en met ’n mes gesteek het.
Volgens Dawn was haar seun ná die aanval vol bloed en het daar bloed by sy mond uitgeloop. 

“Die chirurg het gesê dat hy baie gelukkig was omdat die mes sy sternum getref het,” het sy gesê. 

“’n Paar millimeter links of regs kon glo sy lewe gekos het.”

Volgens Beeld se inligting het vermoedelik dieselfde rowerbende eergister ook ’n man wat in die pad langs die hoewe gestap het, in die been geskiet en was hulle moontlik later dieselfde aand by ’n sakerooftog in die gebied betrokke. 

Die polisie kon dié inligting nie gister bevestig nie. Beeld verneem egter betroubaar dat die polisie se nasionale misdaadintelligensie-eenheid nou op die bende se spoor is.

Die Elandsdrift-hoewe is sowat 10 minute se ry van die straat waar die 13-jarige Alyssa Botha en haar 50-jarige buurman, André Jordaan, in September in twee afsonderlike voorvalle doodgeskiet is.

comments powered by Disqus