Join Now

# Latest News

Submit News

28 February 2012 at 21:45 - Posted by Anonymous

Polisie ‘skop’ man


745

Mnr. Charl van de Venter (38)

Polisielede van die Villieria-polisiekantoor in Pretoria het glo ’n man met pepersproei gespuit en met knuppels en vuiste aangerand omdat hy ’n taxi versper het wat by die uitgang van ’n vulstasie wou inry. 

Mnr. Charl van de Venter (38) het gister ’n klag van aanranding teen die ses polisielede ingedien. Hy het aan Beeld verduidelik hoe ’n taxi Vrydagaand by die Total-vulstasie in Storm-
voëlweg, Kilnerpark, teen die verkeer wou indraai.

Van de Venter, wat in sy bakkie was, het geweier dat die taxi by die uitgang inry en het dit met sy voertuig versper.

Hy het glo gesien hoe die taxibestuurder op sy selfoon praat en minute later het ses polisielede by die vulstasie opgedaag en hom aangesê om uit sy voertuig te klim.

“Toe ek uitklim, het hulle (polisielede) na my toe gestap en gegil: ‘You are a f***ing ­racist and we will show you what we do with racists!’

“Hulle het my eers met vuiste in die gesig en lyf geslaan en toe op my rug geskop.

“Hulle (polisielede) sê toe vir my ek moet in die vangwa klim, maar ek het toe geweier, want ek wil weet hoekom arresteer hulle my.

“Toe spuit hulle pepersproei in my gesig en begin my met knuppels oor my kop, arms en bene slaan,” het Van de Venter gesê. 

Hy sê die polisielede het in geen stadium aan hom sy regte voorgelees nie.

By die polisiekantoor is Van de Venter glo weer aangerand omdat hy nie vorms wou teken nie omdat hy weens die pepersproei nie kon sien nie.

“Ek is so kwaad, want ek het net op my regte gestaan. Die taxibestuurder was verkeerd en nou moet ek boet,” het Van de Venter gesê.

Hy is op ’n klag van dronkenskap gearresteer.

Die polisie het glo geweier dat Van de Venter ’n oproep maak. 

Hy is Saterdagoggend vrygelaat.

Me. Delia de Vries, Van de Venter se regsverteenwoordiger, het gesê polisielede wat lede van die publiek só aanrand, kos die polisie derduisende rande.

“Dit is absolute magsmisbruik en daar is definitief ’n oormaat geweld gebruik in Van de Venter se arrestasie,” het De Vries gesê.

Sy het gesê daar gaan ’n siviele eis teen die polisie ingestel word vir Van de Venter se onregmatige arrestasie en aanhouding en die trauma wat hy beleef het.

Kol. Gawie Alberts, stasiebevelvoerder van die Villieria-polisiekantoor, het gesê hulle is bewus van die aanrandingsklag en dat dit behoorlik ondersoek sal word.

comments powered by Disqus