Join Now

# Latest News

Submit News

12 March 2012 at 12:44 - Posted by Anonymous

Rowers dreig om oues aan brand te steek


473

Mev. Salomé Botha in die hospitaal.
Mnr. Willem Botha

Rowers het alkohol oor ’n bejaarde egpaar van Blackheath in die noordweste van Johannesburg uitgegooi en gedreig om hulle aan die brand te steek.

Mnr. Willem Botha (77) is in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal nadat hy en sy vrou, Salomé (81), sowat twee uur lank erg aangerand en gemartel is, het mnr. Paul Zietsman, ’n huisvriend, gesê.

Drie mans het die egpaar Woensdag in die vroeë oggendure in hul slaapkamer oorval nadat hulle ’n veiligheidsdeur afgebreek het.

“Hulle het Willem met ’n hamer in die gesig geslaan. Salomé se neus is gebreek en hulle het ook ’n bottel in haar gesig gegooi,” het Zietsman gesê.

Mev. Botha is uit die kamer en oor die teëls in die gang gesleep. “Hulle het gedreig om haar te verkrag, maar het dit toe nie gedoen nie,” het Zietsman gesê.

Volgens hom het die rowers heeltyd kwaai gedrink.

Zietsman het gesê die rowers het sowat R800, selfone en kameras gebuit.

“Toe hulle geloop het, het Salomé hul huiswerker, ene Sarah, geroep, wat die noodknoppie gedruk het.”

Sarah het haar eie woonplek langs die huis.

Veiligheidswagte en die polisie was gou daar.

Konst. Moloko Kgatle, polisiewoordvoerder, het gesê een van die aanvallers is by die huis gearresteer.

Die egpaar is na die Milpark-hospitaal in Parktown-Wes geneem, waar albei steeds behandel word. 

Die Bothas se enigste kind, me. Heleen Kulyk, is in 2004 oorlede en die egpaar het geen ander familie in die stad nie.

Zietsman het gesê veral mnr. Botha is erg getraumatiseer.

“Hy is ’n baie sagte mens. Salomé is ’n sterk mens. Sy is emosioneel oukei, maar kry steeds fisiek seer.”

Kgatle het gesê die gearresteerde het gister in die landdroshof in Johannesburg op aanklagte van aanranding en huisroof verskyn.

comments powered by Disqus