Location All
Crime Types   Date Range
between -
Incident #7565
Residential robbery

2,356

## 14th Avenue, Lichtenburg, North West, North-West
10 August 2014 at 19:40 - Reported by Anonymous
Amanda Vermeulen (56), wat vir jare lank as ʼn ontvangsdame by ʼn dokterspraktyk in Lichtenburg in Noordwes gewerk het, is Sondagaand tydens ʼn huisbraak voor haar man, skoonsuster en swaer doodgeskiet.

Melissa van den Berg (28), Amanda se stiefdogter, het Maandag aan Maroela Media gesê Vermeulen en haar pa, Kobie, woon al nagenoeg 15 jaar in Lichtenburg.

“My pa se suster en haar man, Gawie en Retha Botha, het uit Nelspruit vir hulle kom kuier en het die naweek daar oorgeslaap,” het Melissa gesê.

Sy sê twee mans het omstreeks 19:40 haar pa en ander familielede in hul huis in 14de Laan oorval.

“My pa sê alles het so vinnig gebeur. Die mans het kepse gedra en een van hulle het ʼn vuurwapen gehad. Die man met die vuurwapen het in die huis in gehardloop en op my pa geskiet, maar gemis. Een van die koeëls, of ʼn stuk skrapnel, het my oom in sy toon getref,” het sy gesê.

Terwyl die gewapende man in die huis ingestorm het, het die ander man die twee vroue met ʼn besemstok aangehou en gekeer dat hulle vlug.

“Die man met die vuurwapen het ʼn selfoon gegryp en weer uit die huis uit gehardloop terwyl hy wild en wakker begin skiet het.”

Amanda is tydens die skietery noodlottig in die bors gewond. Sy is op die toneel dood. Retha is ook in haar bors, en arm geskiet. Kobie het hulp ontbied en die polisie gebel.

ʼn Plaaslike dokter het Retha behandel, waarna sy in ʼn kritieke toestand na die Life Anncron-kliniek in Klerksdorp oorgeplaas is. Retha was Maandagmiddag in ʼn stabiele toestand.

Amanda het die afgelope 14 jaar as ontvangsdame by dr. Gerrie van den Berg se spreekkamers gewerk. Dr. Van den Berg het aan Maroela Media gesê Amanda was ʼn dierbare en liefdevolle mens.

“Sy was ʼn groot Christen en baie lief vir mense. Sy sou regtig uit haar pad uit gaan vir haar medemens en die pasiënte het net met lof van haar gepraat,” het hy gesê. Hy sê dit is ‘n groot skok vir almal in die dorp.

Sers. Kealeboga Molale, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak en moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Amanda se roudiens vind Woensdag om 11:00 by die NG Kerk (Klipkerk) plaas. Almal is welkom om die diens by te woon.

Source: MAROELA MEDIA

Image

Source: http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/suid-afrika/vrou-voor-familie-doodgeskiet/...
comments powered by Disqus

Please Note: This is a Google Maps Street View of the approximate area where the crime occured. It is not necessarily the exact address view of the crime.