Location All
Crime Types   Date Range
between -
Incident #7641
Assault with intent to inflict grievous bodily harm

2,598

## Klerksdorp, North West, North-West
21 August 2014 at 02:00 - Reported by Anonymous
(Gordon) ’n 37-jarige man lê reeds vier nagte in ’n Klerksdorpse hospitaal met ’n gebreekte neus en kakebeen nadat hy na bewering deur ’n groep polisiemanne aangerand is.

Barend Esterhuizen van Stilfontein, Noordwes, het Donderdagoggend omstreeks 02:00 in Klerksdorp deur ’n kruising gery toe die verkeerslig oranje was en hy op sy selfoon gepraat het.

“Ek het ’n paar drankies saam met vriende geniet. Ek was besig om my verloofde te laat weet dat ek op pad huis toe is toe ek skielik besef het dat ek deur ’n oranje lig gery het.

“Ek het geskrik toe ek twee polisievangwaens agter my sien en het besluit ek gaan die pad vat,” het Esterhuizen Sondag gesê.

“Maar ek het gou tot my sinne gekom en besluit om af te trek. Ek het onmiddellik uit die kar geklim en die vangwaens se ligte het my omtrent verblind.

“Ek het gesê: ‘Jammer, dit was my fout! Ek het nie gedink wat ek doen nie.’ Toe voel ek skielik ’n paar houe en skoppe teen my lyf en my kop.
“Ek het toe my bewussyn verloor.”
Toe hy bykom, is hy geboei en in een van die vangwaens gegooi, het Esterhuizen gesê.

“Alles het so vinnig gebeur. Ek het bloed oor my gesig gevoel vloei en paniekbevange geraak.

“Toe ek by die polisiekantoor kom, het hulle my bloed getoets en my aangehou. Ek kon eers 04:00 my familie laat weet waar ek is en dit is toe dat hulle my op borgtog vrylaat om hospitaal toe te gaan.”

Johan Myburgh, Esterhuizen se prokureur, het Vrydag namens hom in die plaaslike landdroshof verskyn omdat hy in die hospitaal was.
“Die hof het net die aangeleentheid uitgestel in die afwesigheid van die beskuldigde. Hy word aangekla van roekelose of nalatige bestuur en bestuur onder die invloed van drank. Die saak is tot 9September uitgestel,” het Myburgh gesê.

Hy meen die polisie se verklaring oor die gebeure stem nie ooreen met Esterhuizen se beserings nie.

“Die polisie beweer hy het weggejaag en wou nie saamwerk nie. Volgens die polisie het hulle hom nie aangerand nie, maar hom per ongeluk gestamp en het hy op sy gesig geval en geskuur. Maar my kliënt lyk baie sleg,” het
Myburgh gesê.
“Dit is baie ernstig.
“Ek het Vrydag vir die hof laat weet dat ons die polisie gaan aankla van aanranding en poging tot moord sodra my kliënt in staat is om dit te doen,” het Myburgh gesê.
Lt. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder, het gesê hy is nie bewus van die voorval nie en daar sal vandag ondersoek ingestel word.
Esterhuizen word vandag (8/25) uit Wilmedpark in Klerksdorp ontslaan.

Image

Source: Boere Krisis Aksie (B.K.A.)...
comments powered by Disqus

Please Note: This is a Google Maps Street View of the approximate area where the crime occured. It is not necessarily the exact address view of the crime.